PPRuNe Forums - View Single Post - SA Deputy-Pres's Gravy Plane
View Single Post
Old 21st Jan 2006, 05:53
  #76 (permalink)  
Gunship
GunsssR4ever
 
Join Date: Sep 1999
Location: Out there somewhere ...
Posts: 3,816
Likes: 0
Received 0 Likes on 0 Posts
Grrr

Hier is die Afrikaanse weergawe ...

PRETORIA. – Adj.pres. Phumzile Mlambo-Ngcuka het haar vandeesweek waarskynlik onwetend op nóg ’n potensieel omstrede vlug begewe.

Dié keer was dit ’n interkontinentale straler wat gehuur is om haar en haar geselskap vir ’n vlug van 13 minute na Sun City te vervoer. Die onkoste was, sover vasgestel kan word, sowat R75 000 vir die retoervlug.

Mlambo-Ngcuka het die Wêreldbeker-gholftoernooi vir vroue Woensdagaand geopen.

Dit het gister in die lugvaartgemeenskap gegons oor die redes waarom ’n straler wat normaalweg op vlugte van Suid-Afrika na Europa of Amerika gebruik word, vir dié kort vlug gebruik is.

Volgens lugvaartkenners is daar verskeie ander moontlikhede beskikbaar wat haar en haar gevolg vir heelwat minder as die helfte van R75 000 in dieselfde tyd of ’n paar minute later by haar bestemming sou besorg.

Die Gulfstream V is juis een van die stralers wat deur die lugmag vir interkontinentale vlugte gebruik word wanneer sy eie vliegtuie nie beskikbaar is nie. Dié straler, wat op ’n normale langafstandvlug op ’n hoogte van 35 000 vt op sy mees ekonomiese sou wees, het waarskynlik nie eens ’n hoogte van 12 000 vt gehaal op die vlug Sun City toe voordat dit al weer moes begin daal het nie.

Een lugvaartkenner het gesê die ander vliegtuie het waarskynlik te min plek gehad vir die getal mense wat haar vergesel het.

’n Cessna Citation-straler (teen sowat R35 000 vir ’n soortgelyke vlug) of ’n King Air-turbineskroefvliegtuig (teen sowat R30 000) kan ses mense vervoer, terwyl die Gulfstream 10 tot 12 kan vervoer. Laasgenoemde is omtrent net so groot soos die Falcon 900 – oftewel die lugmag se nommer twee straler naas dié wat pres. Thabo Mbeki gewoonlik gebruik – waarmee Mlambo-Ngcuka in Desember op haar omstrede vakansievlug na Aboe Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) toe was.

Na verneem word, was die Falcon nie beskikbaar nie. Mbeki is tans in die Soedan vir die Afrika-unieberaad en dus was sy sakestraler besig.

Die lugmag het ’n kontrak vir die uitkontraktering van BBP-vlugte en huur na gelang van die dringendheid van lugvervoerversoeke deur die onderskeie staatsdepartemente vliegtuie, verhaalbaar van dié departemente se rekening. Die kontrakteur bekom ’n vliegtuig geskik vir die vlug.

Na verneem word, het mnr. Jacob Zuma in sy termyn as adjunkpresident gereeld met die twee goedkoper vliegtuie gevlieg wanneer hy amptelike verpligtinge gehad het. Wanneer ’n vliegtuig gehuur word, word dit na verneem word vir ’n bepaalde aantal ure verskaf – al word dit net vir ’n fraksie daarvan gebruik.

Intussen probeer die lugmag bepaal hoe die inligting oor Mlambo-Ngcuka se vlug na Aboe Dhabi uitgelek het. Mnr. Sam Mkhwanazi, woordvoerder vir die ministerie van verdediging, het gesê daar is nié ’n amptelike ondersoek nie. Personeel by die bevelspos in die lugmag se hoofkwartier in Pretoria, sowel as by 21 Eskader, die BBP-eskader by die Waterkloof-lugmagbasis, is egter reeds ondervra. Mkhwanazi het teen druktyd nog vir besonderhede oor die Sun City-vlug van die lugmag af gewag.
Die Burger
Gunship is offline