PPRuNe Forums - View Single Post - SA Deputy-Pres's Gravy Plane
View Single Post
Old 11th Jan 2006, 06:03
  #8 (permalink)  
Gunship
GunsssR4ever
 
Join Date: Sep 1999
Location: Out there somewhere ...
Posts: 3,816
Likes: 0
Received 0 Likes on 0 Posts
Thumbs down Vlug Was Teen Die Reëls

Kabinetslede mag lugmagvliegtuie nét vir amptelike vlugte vir die rekening van ’n kabinetslid se departement gebruik. Só lui die handleiding vir etiese gedrag van die kabinet.

Die voorvereistes vir sulke vlugte is dat daar nié kommersiële vlugte is wat die individu betyds tot by sy amptelike verpligtinge kan vervoer nie, wanneer die veiligheid van die individu dit vereis of wanneer kommersiële vlugte nie kostedoeltreffend of beskikbaar is nie.

Die regering aanvaar egter volle verantwoordelikheid vir die verskaffing van vervoer en veiligheid aan die president en adjunkpresident – ongeag of hulle op amptelike of private reise is.

Dít was gister die reaksie van mnr. Murphy Morobe, woordvoerder van die presidensie, op die reis van adj.pres. Phumzile Mlambo-Ngcuka en haar gesin wat belastingbetalers sowat R400 000 uit die sak gejaag het.

Mlambo-Ngcuka, haar man, Bulelani, en kinders was van 27 tot 31 Desember in Aboe Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate met vakansie. ’n Falcon 900-straler van die lugmag, een van die BBP-vliegtuie wat vir amptelike reise van die regering gebruik word, is gebruik om die groep te vervoer.

Die operasionele koste van die vlug word op sowat R400 000 gereken. Volgens Morobe word die vereistes vir die vervoer van die president en adjunkpresident op die grondslag van veiligheid, koste en gerief bepaal.

“In dié geval is die adjunkpresident geadviseer dat die voorvereiste van veiligheid die beste deur ’n weermagvliegtuig verskaf sou kon word,” het Morobe gesê.

Volgens hom is dié vervoerreëlings soortgelyk aan die standaardvoorskrifte wat “deur baie regerings regoor die wêreld gevolg word”.

Volgens dr. Dirk Kotzé van die departement politieke wetenskap aan Unisa is dit moeilik om só ’n vergelyking te tref omdat baie min lande ’n adjunkpresident het, berig Liezel de Lange.

“Die meeste het ’n president en premier, en laasgenoemde word oor die algemeen nie op dieselfde vlak as ’n adjunkpresident hanteer nie.”

Die meeste lande dra die vervoerkostes van hul staatshoof, soos wanneer pres. George W. Bush van die VSA Texas toe gaan vir vakansie. Die VSA het ook ’n visepresident wat op soortgelyke wyse hanteer word.

Kotzé wys egter daarop dat mnr. Tony Blair, die Britse premier, as staatshoof selde sy vakansiereëlings op staatskoste laat geskied en dat hy altyd met die nasionale lugdiens vlieg.

Wat Mlambo-Ngcuka se vakansiereëlings betref, meen Kotzé dat veiligheid ’n oorweging is, maar dat “gemak” nie ’n oortuigende argument is nie omdat sy besigheidsklas op ’n kommersiële lugdiens kon vlieg.

“Uit ’n suiwer etiese oogpunt moet daar ’n onderskeid getref word tussen private en amptelike besoeke.”

Morobe het vroeër gesê Mlambo-Ngcuka het die lugmagvliegtuig gebruik ingevolge die kabinetshandleiding se bepalings oor vervoer wat aan haar toegewys is.
http://www.news24.com/Die_Burger/Nuu...861090,00.html
Gunship is offline