PDA

View Full Version : AFRIKAANS : SAA waarsku mediese Doktor


Gunship
22nd Jun 2003, 18:09
Anybody in translation mode ? I can in about an hour if nobody has ...


Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het 'n dokter die afgelope week skriftelik gewaarsku om op te hou met "onbewese aantygings" nadat die dokter onder meer beweer het die suurstofbottels op 'n vlug na Amerika was leeg.

Dié waarskuwing kom te midde van 'n skerp woordestryd tussen die dokter en mnr. André Viljoen, uitvoerende hoof van die SAL, oor die omstandighede waarin 'n bejaarde passasier verlede jaar op 'n SAL-vlug na Amerika dood is.

Mev. Barbara Bernstein, 'n Amerikaner van in die sestig, is verlede jaar op 18 Maart op 'n vlug van Johannesburg na Atlanta in Amerika dood. Haar man, wat ook op die vlug was, het haar laas lewend gesien toe sy opgestaan het om toilet toe te gaan.

Die dokter, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het die afgelope week 'n brief aan Rapport beskikbaar gestel wat hy verlede jaar ná die voorval aan Viljoen geskryf het. Hy beweer dat hy sedertdien nie bevredigende antwoorde kon kry op aantygings in die brief nie.

Viljoen het in reaksie gesê dié aantygings is ongegrond en is in onafhanklike ondersoeke deur onder meer die Amerikaanse hawe-owerheid in Atlanta weerlê. Hy sê as die dokter, wie se naam aan die SAL bekend is, nie ophou met sy "leuens" nie, sal hy by die gesondheidsowerheid verkla word.

Die dokter beweer hy was 'n passasier op die vlug. Hy het gereageer op 'n vlug-aankondiging dat 'n dokter nodig is en is na die toilet gebring waar 'n passasier gekla het sy sukkel om asem te kry en dat daar drukking op haar bors is. Die dokter het vermoed sy was besig om 'n hartaanval te kry.

Volgens die dokter het hy suurstof gevra wat deur een van die kajuitbemanningslede aan hom gegee is.

"Ek het die masker op die passasier se gesig gesit en begin om haar suurstof te gee. Sy het dit weggetrek. Dit was vreemd. Die meeste pasi'nte in hierdie toestand wil suurstof hê. Ek het na die meter op die suurstofbottel gekyk en gesien dis leeg. Ek het dit onaanvaarbaar gevind en 'n ander bottel van die bemanning geeis," lui die dokter se brief.

Hy beweer nog twee suurstofbottels was leeg en 'n vierde het " 'n bietjie suurstof" gehad.

Viljoen het in reaksie bevestig dat die dokter gesê het die suurstofbottel werk nie. Sy weergawe van die gebeure daarna verskil egter.

"Nog 'n suurstofbottel is gebring en die bemanningslid het seker gemaak dat dit werk omdat sy gedink het die dokter het gesê die eerste een werk nie.

"Mev. Bernstein het op haar tande gekners en stuiptrekkings begin kry. Haar toestand het verswak.

"Die bemanning het die outomatiese uitwendige defribilleerder ('n toestel om die hartklop te normaliseer) opgestel en dit was reg om gebruik te word, maar die dokter het geen belangstelling daarin getoon nie. Hy het geweier om dit te gebruik of om die bemanning kans te gee om dit te gebruik," het Viljoen gesê.

Luidens die brief wat Viljoen Vrydag aan die dokter geskryf het, was daar niks fout met die suurstofbottels nie. "Jy het moontlik die meters verkeerd gelees omdat hulle verskil van dié wat oor die algemeen in mediese praktyke gebruik word."

Volgens die dokter het 'n tweede dokter kom help en adrenalien voorberei. Adrenalien is in die passasier se hart ingespuit, maar dit was te laat en is sy dood.

Viljoen sê die kaptein het die dokter gevra wat die oorsaak van die passasier se dood is en dié het geantwoord dit was 'n hartaanval of 'n beroerte.

In die dokter se brief aan Viljoen het hy geskryf dat hy aan die kaptein gesê het die suurstofbottels is leeg en dat die passasier moontlik kon geleef het as dit nie die geval was nie.

Die afgelope week het hy egter teenoor Rapport erken dat haar lewe moontlik nie gered kon word met suurstof nie.

Volgens Viljoen is in 'n lykskouing in Atlanta bevind Bernstein is dood aan natuurlike oorsake: hart-disritmie weens koronêre verharding.

Onafhanklike ondersoeke is gedoen deur die polisie in Atlanta en die lughawebestuurder en die bemanning is ondervra. Die polisie en die hawe-owerheid het beslag gelê op onder meer die suurstofbottels.

Viljoen sê in die ondersoek is bevind die suurstofbottels was nie leeg nie.

"Die dokter moes die bottels self getoets het en nie net daarna gekyk het nie."

In die ondersoek is kommer uitgespreek dat die outomatiese uitwendige defibrilleerder nie gebruik is nie. Daar is bevind dat die bemanning ooreenkomstig regulasies van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid opgetree het.

Die dokter hou voet by stuk dat die bottels leeg was omdat "ek mos weet hoe dit werk".

Viljoen sê in Vrydag se brief aan die dokter: "As teken van ons waardering vir jou onbaatsugtige hulp op 18 Maart 2002 het ons jou 'n gratis kaartjie aangebied. Ons beskou jou onbewese bewerings in 'n baie ernstige lig. As jy voortgaan met die bewerings in jou brief, sal die SAL die gepaste stappe doen en die saak by die betrokke owerheid aanmeld."